Ronnie Louw – Rugby legende van Hopefield

“Hy was bestempel as die beste heelagter in sy tyd, maar die seer van apartheid het hom ontneem om die Springbok-trui oor sy kop te trek”.

“Ek onthou hom as ‘n nederige mens, ‘n pragtige persoonlikheid, wat met uitsonderlike sport talente gebore was. Hy het ook uitgeblink op die krieketveld, maar dit was sy rugby talent wat hom van die res geskei het.  Om hom persoonlik te geken het, was ‘n voorreg: daarom maak dit  my soveel trotser om die argitek te wees, om ‘n jaarlikse rugbydag namens wyle Ronnie Louw te begin”.

Maar wie is Ronnie Louw?

Ons plaaslike sportgronde hier op Hopefield is na hom vernoem, tog vertel dit nie alles van Ronnie Louw die mens nie. Hy was ‘n sportman in murg en been: iemand wat meer wou doen om sport in die gemeenskap te laat groei. Huidiglik is sport onder die dorp se jeug ‘n luukse, iets wat Louw sou wou probeer verander het, sou hy vandag nog gelewe het. Want, “hy was ‘n inspirasie vir vele sportmanne op sy geboorte dorp.

Ons by Cape Coast Youth het besluit om hulde te bring aan die legende en daarom neem ons die inisiatief, om ‘n jaarlikse rugbydag op sy naam te begin.  Die “Ronnie Louw Rugbydag” gaan gebruik word om fondse te renegeer om sportontwikkeling onder ons jeug te bevorder.

Op Vrydag 14 Mei 2010 was die volgende stukkie geskiedenis oor die taletvolle sportman ge-publiseer in “Die Buletin”, ‘n streekkoerant waar ek daardie tyd ‘n verslaggewer was. Maar lees self die merkwaardige storie oor een van Hopefield se onvergeetlike helde. Dit was geskrywe deur Hendrik Snyders van Velddrif aan die Kaapse weskus.

Hier volg Snyders se storie

Ronnie Louw, ‘n seun van Oudekraalfontein in Hopefield, is danksy die apartheid era, totaal onbekend aan die deursnee Suid Afrikaanse rugbypubliek, ten spyte van ‘n merkwaardige rugbyloopbaan.

Rugby in die Hopefield geweste dateer na die eerste jare van die twintigste eeu. Onder die nie-blanke gemeenskap, spesifiek, kan die bestaan van die Universals Rugby – Voetbalklub na die jaar 1931 herlei word. Diè klub het sy rugby onder die vaandel van die Westelike Provinsie Liga, en twedens die nou vergete Suid Afrikaanse Kleurling Rugby-Voetbalraad (SAKKVR) gespeel.

Na 1959, en die stigting van die Suid Afrikaanse Rugbyvoetbal Federasie, het die klub by die plaaslike Swartland-Unie aangesluit. Dit was dan ook uit diè klub, die begin van die Ronnie Louw era op die rugbyvelde.

Sy loopbaan klink soos ‘n sprokie, want uit die laaste vesting op die rugbyvelde het Ronnie van krag tot krag gegaan. Die no.15 het ‘n suksesvolle debuut in die Swartland Rugby-Unie in die Silwer en Gouebeker kompetisie van SAVF ervaar.

Op 26 Junie 1976 maak die skitterende heelagter sy debuut in die tradisionele toets teen die Luiperts van die swart Suid Afrikaanse Rugbyvereniging (SARV). Die toets is op die Wolfson-stadium in Port Elizabeth gespeel. Ronnie Louw was die onbetwiste ster van diè wedstryd wat die Proteas met 17 – 9 gewen het. By hierdie geleendheid het Louw vanaf die heelagter-posisie ten minste een drie tot die finale puntestand bygedra.

Hiedie vyfster vertoning is opgevolg deur ‘n ewe roemryke vertoning teen die magtige All-Blackspan in die daaropvolgende wedstryd in die Goodwood Skougrondevoor ‘n skare van 8000 toeskouers.

Persoonlike tragedie vir Louw

Nieteenstaande die feit dat die All-Blacks die wedstryd met 25-3 gewen het, het die Proteas goed van hulself rekenskap gegee. Alle wedstryd verslae wys ook daarop dat Louw hom goed van sy taak gekwyt het. Die media het na die wedstryd op ‘n sopnat Goodwood verwys as: “unfortunately an ill-tempered affair”.

“Die stewige vertoning teen die Luiperds, was direk daarvoor verantwoordelik dat Louw daarna in ‘n uitnodigingspan, die sogenaamde President-XV-tal, wat gekies was vir die wedstryd op Nuweland teen die All-Blacks”. Hierdie wedstryd was ook vir ‘n ander rede betekenisvol, naamlik dat dit die honderste wedstryde vir All-Blackspanne in Suid Afrika was.

Hierdie prestasie van Louw is egter deur ‘n persoonlike tragedie gevolg, slegs een dag na die Protea-debuut wedstryd, toe hierdie belowende speler sy moeder aan die dood moes afstaan. Ten spyte van die terugslag het hy sy plek twee dae later ingeneem en voor 30.000 mense ‘n uitstaande vertoning gelewer het.

Soos die vorige wedstryd, was die All-Blacks die oorwinnaars met 31-24, maar reflekteur die daaropvolgende rekord dat:

   “Ronnie Louw who played so well against the All-Blacks on Goodwood, and who had carved holes in the Leopards in Port Elizabeth, had a great first half, but one inexplicable lapse in his goal area gave the All-Blacks a try in the second half.  But clearly, he was a talented player”.

Na die eerste suksesse op nationalle- en internationale vlak, het hy stelselmatig sy aanspraak op hoër louere verder verstewig. In 1977 word hy tesame met ‘n paar ander Protea-spanmaats na die eerste gemengde proewe vir die kies van die Springbok-span op Loftes Versveld uitgenooi. ten spyte van hul bewese vermoëns, kon nie een egter die span haal nie.

In 1978, na die samesmelting van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbal Federasie, SA Rugbyvereniding en die Suid Afrikaanse Rugbyraad, het daar vir spelers soos Louw nuwe speelgeleendhede oopgegaan.

Op klubvlak het dit beleid geword, dat in gevalle waar dorpe oor meer as een klub beskik het, sodanige klubs moes verenig om ‘n nuwe klub te vorm. Hierdie besluit het, soos verwagte, nie almal se ondersteuning weggedra nie.

Toer na Zimbabwe

In Louw se tuisdorp moes sy eie klub, Universals, met een van die ander verenig om die Hopefield Liga RVK te vorm. As ‘n gereelde lid van die Swartland-Subunie, het hy ook voortgegaan om sy onbetwiste waarde as heelagter en bewese talent verder uit te bou.

Danksy sy bestendige vertonings het hy sy plek in die Protea-span behou vir die April 1978-toer na die voormalige Rhodesië. (Zimbabwe)

Gedurende die 1979-seisoen moes Louw egter tot ‘n groot mate met die agterspeen tevrede wees en aanskou hoe hoedat spanmaats soos Errol Tobias, Hennie en Turkey Shields en Charles Williams, om maar ‘n paar te noem: nie net senior rugby op Sport Pienaarvlak speel nie, maar ook by verskillende toerspanne soos die SA Barberians vir besoeke aan die Verenigde Koninkryk ingesluit word.

Hulle het selfs ook verdere geleendhede gekry om teen besoekende spanne met ervare internationale sterre soos Surrey (Mei 1979), te speel. ‘N belangrike faktor in hierdie verband was die feit dat die Westelike Provinsie Liga, anders as sy Boland eweknie, waar Louw sy rugby gespeel het, ondermeer by die blanke W.P. se kompetisies ingesluit was. Dit het vir aansienlike meer bloodstelling gesorg, aangesien die kompetisie vir veral Curriebeker en toetsstatus ‘n beduidedende rol op hierdie vlak van kompetisie gespeel het.

Skole boikot stuit nie loopbaan

Die jaar 1980 was ‘n aansienlike moeiliker jaar en is veral gekenmerk deur die toenemende verspreding van anti-apartheid protes dwarsoor die hele Suid Afrika. Selfs die Weskus waar Louw woonagtig was, was nie daarvan gevrywaar nie en is die Hopefield gemeenskap direk deur die skole-boikot geraak. In die geharwar het Louw egter sy rugbyloopbaan voortgesit as deel van die Proteaspan.

Die verskil hierdie keer was egter die feit dat die Proteas sedert 1980 nie meer as ‘n etniese Kleurlingspan voortbestaan het nie. As deel van die proses om te beweeg na nie-rassigheid, of gemengde rugby soos dit toe genoem was, sou hierdie span voortaan uit bruin en blanke spelers bestaan.

Gevolglik was die Proteaspan vir die wedstryd teen die besoekende Britse Leeus ‘n gemengde span wat uit ‘n gelyke getal spelers van albei kleurgroepe bestaan het. Louw het egter nogeens daarin geslaag om sy plek te behou. Tenspyte van ‘n oorvloed van internasionale sterre in die Leeu-span, het die Proteas nogeens goed van hulself rekenskap gegee en slegs na ‘n klipharde stryd diè wedstryd met 15-6 verloor.  Die nuwe rugby landskap waarin Louw nou gespeel het, was beslis heeltemaal anders as vantevore.

Alhoewel hy steeds daarin geslaag het om te beindruk, was dit egter te laat en moes hy ook soos vele ander sy loopbaan afsluit sonder om die voorreg te geniet om sy land op die internationale toneel as ‘n Springbok te verteenwoordig.

Alle dank oor die Ronnie Louw geskiedenis gaan aan “Hendrik Snyders van Velddrif, wat die navorsing gedoen het.

Die rugbydag word aangebied met die samewerking van Hopefiield rugbyklub, onder die vaandel van Boland Rugby unie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *